Bankwatch sê Dundee belieg publiek
7 December 2015, Republikein
Die internasionale nie-regeringsorganisasie CEE Bankwatch Network sê Dundee Precious Metals (DPM) onderspeel doelbewus die gevare van anorganiese arseentrioksied, ’n neweproduk van die smeltingsproses van koper by die smeltery op Tsumeb.
In werklikheid, wys Bankwatch daarop, het die VSA se Agentskap vir Gifstowwe en Siekteregister arseentrioksied as “een van die giftigste en algemene vorme van arseen” geklassifiseer.
“Klein hoeveelhede van arseentrioksied kan lei tot meervoudige orgaanskade en dood,” het Bankwatch benadruk. Dit het bygevoeg dit is nie die organisasie se eie vertolking nie, maar DPM wat dit in sy volhoubaarheidsverslag van 2014 erken het.
In die verslag word gesê arseen-ekstrak (extracted arsenic), ’n neweproduk ná koperkonsentraat gesmelt is, word as ’n gevaarlike afvalstof geklassifiseer..
“Ons glo dat inligting oor die hantering van hierdie gevaarlike afvalstowwe, selfs op navraag, nie vir die publiek beskikbaar is nie. Hoekom maak DPM nie die tersaaklike inligting vir almal beskikbaar as dit gelukkig is met die situasie op Tsumeb nie?” vra Bankwatch.
Die organisasie sê ondanks DPM se verweer dat dit deursigtig is, is inligting oor die bewaking van die perseel waar die afvalstowe gestoor word of werkers en Tsumeb-inwoners se blootstelling aan die gifstowwe, sowel as die arseenvlakke in die omgewing, nie op die DPM-webwerf beskikbaar nie.
Bankwatch sê daarbenewens het dit sedert Februarie herhaaldelike versoeke tot DPM gerig vir gedetailleerde inligting oor verbeterings aan die Tsumeb-smeltery Dit wou ook weet of omgewingstudies en omgewingspermitte vir hierdie verbeterings gedoen en uitgereik is.
“Tot dusver weier die maatskappy om enige inligting met sy argumente te verskaf,” sê Bankwatch.
Kommerwekkend, sê Bankwatch, is dat die ministerie van die omgewing en toerisme ook geen aangevraagde inligting verskaf het nie.
In Oktober het Bankwatch ’n brief aan minister Pohamba Shifeta gestuur waarin dit vra vir toegang tot inligting oor ’n omgewingsimpakstudie of omgewingsklaringsertifikaat rakende veranderinge en nuwe fasiliteite by die Tsumeb-smelterye.
In die brief kla die organisasie ook oor die feit dat die ministerie nie bereid was om met dit te vergader of inligting te verskaf nie.
“Ons het oor die jare aan DPM-projekte in Bulgarye en in die buiteland gewerk en dit is die eerste keer dat ons gekonfronteer word met geen samewerking om toegang tot enige amptelike omgewingsdokumente te kry nie. Sulke dokumente is gewoonlik beskikbaar vir die publiek,” het mnr. Daniel Popov, die nasionale koördineerder van Bankwatch in Bulgarye, aanRepublikein gesê.
Popov het bygevoeg: “Dit absolute geheimhouding wat deur die ministerie van die omgewing en toerisme opgelê word, laat my begin wonder of DPM enige omgewingspermitte vir die nuwe fasiliteite het.” April 2016 is spertyd vir teikens
Die omgewingskommissaris in die ministerie, mnr. Teofilus Nghitila, het Donderdag (3 Des) gesê ’n omgewingsklaringsertifikaat is ’n dokument wat “eksklusief” aan die ontvanger, DPM in hierdie geval, beskikbaar is omdat hierdie dokument sekere bepalings bevat waaraan die ontvanger moet voldoen.
“Daar is niks verkeerds om in die publiek aan te kondig dat ’n omgewingsklaringsertifikaat uitgereik is nie. Die ministerie het in elk geval op Bankwatch se brief gereageer,” het Nghitila bygevoeg.
Hy het voorts gesê dat hy nie met Bankwatch kon vergader nie aangesien hy toe uit die land was en later op die DPM-perseel in Tsumeb besig was.
Hy het gesê die ministerie se verslae van die smeltery erken die feit dat anorganiese arseentrioksied bó ’n sekere konsentrasie giftig is.
Nghitila het gesê die ministerie werk saam met DPM “om die situasie van blootstelling van werkers en die Tsumeb-gemeenskap aan gifstowwe te verstaan”.
“Hierdie samewerking het gelei tot ’n beduidende verbetering in die gehalte van die omgewing op Tsumeb en die smeltery self,” het Nghitila gesê.
Hy het bygevoeg dat DPM sekere teikens rakende verbeteringe aan die omgewing by die smeltery en in Tsumeb gegee is. Hierdie teikens moet ten volle in April 2016 bereik word.
“Daarna sal nuwe bedryfsbeperkings verwag word wat op die lang termyn gehandhaaf moet word,” het Nghitila gesê.
DPM: ‘Ons ken die gevare’
Die Tsumeb-smeltery se woordvoerder, me. Alina Garises, het gesê die maatskappy weet en verstaan wat arseentrioksied is en weet wat die klassifikasie daarvan is toe dit die smeltery in 2010 gekoop het.
Garises sê DPM het daarom ’n arseen-bestuursplan (RAMP) ontwikkel om te verseker dat dit aan beste praktyke voldoen.
“Selfs voordat ons die smeltery gekoop het, het ons planne gehad om uitgebreide veranderinge aan die hanteringstelsel van arseen en die stortingsterrein uit te voer,” het sy gesê.
Garises het gesê DPM het tot dusver N$5 miljard bestee om die smeltery op internasionale standaarde te bring. Dit, sê sy, sluit in verbeteringe aan die Ausmelt-proses en sakhuis om vrylatings te verminder waaraan werkers blootgestel is, .
Sy sê sedert 2012 is twee oudits oor die hantering van arseen gedoen en in die loop van 2014 is blootstelling aan arseen wat ingeasem kan word, met 50% verminder.
Voorts sê Garises is die stortingsterrein nou ’n ten volle bedekte en beheerde fasiliteit wat bestaan uit ’n aantal nie-deurdringbare lae en ’n mees moderne stelsel wat loogsel kan opspoor en monitor.
“Die fasiliteit is gebou, gelisensieer en word volgens dieselfde internasionaal aanvaarde standaarde en riglyne vir lang-termyn blootstelling bestuur,” het Garises gesê.
Institution: EBRD
Theme: Mining
Location: Namibia
Tags: Dundee Precious Metals | Namibia | Tsumeb | arsenic